Formulario de búsqueda

EKSODUS 33

Die Here wil nie saam met sy volk trek nie

1Toe het die Here vir Moses gesê: “Trek nou hiervandaan af weg, jy en die volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het. Trek na die land toe wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het: ‘Ek sal dit aan julle nageslag gee.’ 2Ek sal my engel voor jou uit stuur en Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdryf. 3Julle is so 'n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.”

4Toe die volk van hierdie harde uitspraak verneem, het hulle getreur en geen juwele gedra nie. 5Daarop het die Here vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Julle is 'n moedswillige volk. As Ek net 'n oomblikkie saam met julle trek, sal Ek julle verdelg. Sit al julle juwele weg. Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen.”

6Vandat hulle van Horebberg af verder getrek het, het die Israeliete nie meer juwele gedra nie.

Die tent van ontmoeting

7Moses het 'n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. 8Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. 9Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat.

10Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. 11Die Here het direk met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.

12Op 'n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’ 13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Afrikaans 1983

©1983, 1992 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index