Formulario de búsqueda

2 Korintiërs 10

Paulus sê hoekom die mense in Korinte hom moet glo

1Ek weet julle dink dat wanneer ek by julle is, dan raas ek nie met julle nie, maar wanneer ek weg is, dan is ek kwaai met julle. Nou vra ek, Paulus, baie mooi vir julle, en ek vra dit omdat Christus ’n sagte hart het en omdat Hy goed is. 2Ek vra: Wanneer ek weer na julle toe kom, dan moet julle nie dinge doen wat my baie kwaai laat word nie. Want ek sal kwaai wees met die mense wat dink dat ons soos *wêreldse mense lewe. 3Ja, ons lewe op die aarde, maar wanneer ons veg teen *die duiwel, dan doen ons dit nie soos wêreldse mense nie. 4Nee, ons veg met wapens, maar dit is nie wapens van die wêreld nie. Hierdie wapens het baie krag omdat dit God se wapens is, ons kan die vyand se sterk mure afbreek met daardie wapens. Ons breek die vyand se slim woorde af. 5Mense dink dinge wat keer sodat hulle nie vir God kan leer ken nie, en hulle is trots wanneer hulle so dink. Maar ons breek alles af wat hulle dink. Ja, ons maak *gevangenes van alles wat mense dink sodat die mense gehoorsaam kan wees aan Christus. 6Ons wil almal straf wat nie gehoorsaam is aan Christus nie. Maar ons sal dit eers doen wanneer julle heeltemal gehoorsaam is aan Christus.

7Julle moet goed dink hieroor. As een van julle seker is dat hy aan Christus behoort, dan moet hy onthou dat ons ook, soos hy, aan Christus behoort. 8Die Here het gesê ons moet julle geloof sterk maak, Hy het nie gesê ons moet julle laat ophou glo nie. Julle dink miskien dat ek te veel spog oor wat die Here gesê het ons mag doen. Maar dit is regtig so, die Here hét vir ons gesê ons moet julle geloof sterk maak. En ek is nie skaam daaroor nie. 9Julle moenie dink dat ek probeer om julle bang te maak in my briewe nie.

10Want miskien is daar mense wat sê: “Paulus se briewe is baie ernstig en kwaai, maar wanneer hy self hier by ons is, dan lyk hy nie so kwaai nie en dan praat hy nie soos ’n *apostel moet praat nie.” 11Mense wat so sê, moet weet: Wanneer ons nie by julle is nie, dan skryf ons in ons briewe wat ons sal doen, en ons sál dit doen wanneer ons by julle is, ons sal party mense straf.

12Ons sal nooit dink dat ons so goed is soos party mense in die gemeente nie, mense wat wil hê dat ons vir hulle moet glo. Hierdie mense kyk net na hulleself en dan dink hulle dat hulle goed is. En daarom verstaan hulle niks. 13Maar ons sal nie spog oor iets waaroor ons nie mag spog nie. Ons sal net spog oor wat God vir ons gesê het om te doen, en dit is om ook by julle te werk in Korinte. 14Ek spog nie wanneer ek sê dat ons tot by julle gekom het nie. Ons hét by julle gekom en ons hét die goeie boodskap van Christus gebring. 15Ons spog nie oor werk wat ander mense gedoen het nie, ons spog nie oor werk wat ons nie self gedoen het nie. Ons hoop en weet dat julle geloof sterker sal word, en dat ons dan nog meer en meer sal werk in julle stad, die stad waar God gesê het ons moet werk. 16Ons wil die goeie boodskap graag ook op ander plekke bring, plekke verder as Korinte. Maar ons wil nie spog oor die goeie werk wat ander mense al klaar daar gedoen het nie.

17*As ’n mens wil spog,

dan moet hy oor die Here spog.

18Want die Here aanvaar nie mense wat self sê dat ons hulle moet glo nie. Die Here sê vir ons wie ons moet glo, en Hy aanvaar net daardie mense.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index